By Jou Gevind
Aan my Vroutjie.
Ek het gevind die liefde;
        die liefde sag en teer;
Die liefde onverstaanbaar,
        so sterk, so onbekend;
Die liefde wat my ophef
        en dra na hoër sfeer;
Die liefde so lankmoedig,
        so skoon en ongeskend.
Ek het gevind wat meer is:
        geluk nog nooit geken ---
Geluk wat o so diep is,
        so stil en sag en soet;
Geluk die groot opvolger
        van liefde wat oorwen;
Geluk wat tog so innig
        diep nestle in my bloed.
Ek het gevind wat mooi is:
        jou edelheid, jou jeug;
Die soetheid van jou lippies
        wat ek met soentjies dek;
Die skoonheid van jou liggaam;
        Jou blydskap en jou vreug
Wat stralend uit jou ogies
        my altoos nadertrek.
Ek het gevind wat hoog is:
        die edelste en skoon:
Die reinheid van jou lewe,
        jou liefde en jou trou;
Die grootsheid en verstande,
        want in jou hartjie woon:
Die liefde van ‘n moeder,
        die deugde van ‘n vrou!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 21 Julie 1945