Die erediens
Die Erediens is nie maar net
'n preek, 'n lied en 'n gebed;
maar is die samesyn beraam
van kinders van die Heer tesaam,
waarin hul liefde vir mekaar
betoon en eensheid sal bewaar.
Die Erediens het ook 'n plek
Vir lering en vir dankbestek
Getui'nis wat die Here is;
En van genesing; ook beslis
Van redding uit die diepste nood,
Want is die Heer dan nie groot!
Dit het ook tyd te openbaar
Die gawes van die Gees elkaar.
Want in die Woord is dit gewyd
Die kern van God’s heerlikheid
Wat uitstraal uit die brood gebreek,
En deur die gawes uitgespreek.
Elkeen kan bydra tot die diens
Deur nie te skroom of t’rug te deins
Wanneer die Gees dan deur jou mond,
Deur taal of profesie terstond
Wil uitgee om jou medemens
Te sterk, of waar te maak sy wens.
Die Erediens is ingestel
Dat elkeen deel van ander wel;
Dat Jesus ook vir jou versterk,
En jy nie grense stel te perk
Die gawes wat God ieder gee
Om jou te skraag op Lewenswee.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 17 Augustus 1981