Die pad wat ons loop
Die pad wat ons loop strek so lank voor ons uit
Met sy bulte en heuwels en draaie gesluit
Dat ons nie kan sien waarheen dit ook lei
Teen die steil helling uit en ook deur die vallei.
Dit brug oor die klowe en oor die rivier
En dit sny deur die passe so hoog en so fier
En vleg deur die landskap en kronkel en klim
Om weer ente so reëlreg te pyl na die kim.
Die pad is gebaan waarop ons dan ook loop
Dis die weg van ons wandel, ons uitkyk en hoop
Die doel van ons lewe na regte te wend
En ons soeke te volg, te volhard tot die end.
Maar weet ons nou eintlik waarheen lei ons gaan
Die so breë omweg van ons menslik bestaan
'n Pad loop nooit reguit soos ons dit verwag
Maar volg die kontoere van wat ons vermag.
Ons gane te skik deur die lewe voorskryf
Dis die weg van ons gees met die hemel as skyf
Die Here te ken wie die weg vir ons baan
En Sy leiding te volg tot die einde voldaan.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 23 Januarie 1988.