Die Rus van 'n Swerfling
Met voete slepend deur die stof en sand,
Weemoedig, moedeloos, sonder lus,
Verag, verstote, swerwend deur die land,
Wanhopig, hopend vir 'n bietjie rus.
Maar sonder moed en sonder lus of deug,
Van eie doodse swakheid steeds bewus,
Vir immer soekend na verdoofde vreug,
En ewig hopend vir 'n bietjie rus.
Vermoeide voete slepend deur die stof,
Steeds immer voort, want dit is al sy lus,
Met voorkoms moedeloos en grof,
Trek hy maar altyd op die hoop vir rus.
Teleurgestelde ideale --- dood ---
Teleurgestel in alles om hom heen ---
Teleurgestel in selfs sy eie nood ---
Net immer soekend na net rus alleen.
Maar altyddeur nog gaan sy soektog voort,
En altyddeur ontwyk die rus hom nog,
En tog swerf hy nog altyd onverstoort ---
Bewus na rus bly immer nog sy tog.
En eendag as vermoeienis te groot,
En as die vuur van hoop totaal geblus,
En al sy moet vergaan is, --- kom die dood ---
Die Soektog eindig by die Swerflings eenge Rus.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 1 Maart 1940