Die waarde van lof
Ken jy die waarde van die Heer,
Want dit is lof en aansien, eer.
Geloof gewek bring lof aan Hom
Wie het Sy Seun na ons laat kom.
Vanuit die Hemel neergedaal
En hier ons sondeskuld betaal;
Die offer aan die kruis gebring,
Met krag vanuit die dood gewring.
Deur lof aan God verkondig wy
Die tyding van verlossing vry.
Deur eer te bring aan Hemel Heer
Sal ander van die Here leer;
Sal ons ook self geheilig word
Totdat op ons Sy Gees uitstort,
En ons nog meer van God wil hê
Dat ons ons lof voor Hom kan lê.
Deur lof te bring in vreemde taal
Verheerliking die Gees bepaal,
Bring ons aan God wat Hom toekom:
Die lof en eer en prys aan Hom.
Dit is die mens se diens en plig
Want dis die vuur wat Gees verlig.
Dit is die Alfa, die begin
Wat aardse kommer self oorwin.
Die lof bring blydskap in die hart,
Verdryf die laste en die smart,
Versag die juk, verlig die las;
En bring die sonskyn skoongewas;
En wondertekens sal gebeur;
Die siekes word gesond daardeur.
Bring lof en eer aan God die Heer
En prys Hom immer, keer op keer.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 10 April 1983