Die wind, die vuur, die taal
Die krag van die Gees het tot nou nie verflou;
Deur tweeduisend jaar bly dit steeds nog getrou;
En is dit soos toe, nog dieselfde vandag;
Bewys dit tans hede nog God's wonderkrag.
Die wind van die Gees wan die kaf uit die graan;
Die wind wat van bo uit die hemel afgaan;
Jou sielseil laat bol en jou vorentoe dring.
Bring reën van God's seën waaruit wasdom ontspring.
Die Heilige Gees is 'n brandende vuur;
Verlig steeds die weg in die donkerste uur;
En reinig elk siel met Sy hitte en gloed,
En brand weg die dros, en versuiwer die bloed.
Deur die taal van die Gees spreek die mens tot sy God,
'n Taal wat alleenlik verstaan word deur God;
Die siel se versugting; 'n aanbiddings traan
Wat diep uit die hart van God's kinders ontstaan.
Die wind en die vuur en die taal van die Gees
Werk wonders en tekens deur menslike wees;
Maak bruikbaar die een wat nie diensbaar kon word;
Bekragtig elk hart waarin Hy Hom uitstort.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 8 Junie 1981