Droom en Dink en Lag
En as jy droom, droom dan van my;
want as ek droom, is jy naby,
en hou ek jou in arms teer,
en skenk ek jou my liefde weer
en weer, want dit is al my lus.
Daar in jou arms vind ek rus.
En as jy dink, dink dan aan my,
want in jou denke wil ek bly.
en as jy lugkastele bou
sal ek jou elke wens onthou,
en poog om daardie ideaal
met al my kragte te behaal
En as jy lag, lag dan met my,
want al jou laggies klink so vry,
so vol plesier en lewenslus,
so ongekunsteld, onbewus,
asof jy sweef op wolke hoog,
jou troon die kleurryk reënboog.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 21 Augustus 1948