Ek stuur vir jou (net vir jou)
Alles wat ek sonder antwoord sê
Wat so diep in my gedagtes lê
Alles wat ek met die oë pluk
Met hul skoonheid siel en sin verruk
Waswit blomme teen die groene wei
Wolk weerkaatsing in 'n blou-blou vlei
Sagte varings met hul groene loof
Hoë berge wat die stilte doof
Hoorbaar stilte wat in jare groei
Onruswoeling tot gemoedsrus stoei
En ek stuur vir jou ook oopgevou
Handvol minne teen jou aan te hou
Soos 'n skulp daarbinne met die see
Die nabyheid wat die Here gee
Uit Sy liefde in die oop natuur
Alles wil ek met my groete stuur