Ek was my Liefde trou
Eendag as die lewensskadus daal,
Die vlam, wat in my hart nog brand, verflou
Tot smeulend kole en tot assies vaal;
En daar’s nie meer die liefdes soete dou;
En word my hoof se hare min en grys;
Die glans van oë flou en wasig dof;
Wanneer die skouers ook ‘n kromming wys;
My voorkoms word vol plooie diep en grof;
En uit my liggaam tap die lewenssap,
En al my lede word dan styf en stram;
Geen pyn meer voel ek in die noodlots klap,
Want soos die vlees word my gevoel ook tam.
En in die jare wat ek dan moet wag
Geduldig tot die dood my kom wegneem;
Sal bly herinneringe soet en sag
Uit dae toe jy was aan my geleen.
In daardie dae sal ek dink aan jou,
Verwyt sal ek jou dan ook nog nie wil,
Maar bly wees dat ek was my liefde trou –
Want jare het die brandend pyn gestil
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 4 Februarie 1944