God se son en dou
Sit ek in helder sonstraalgloed
Die warmte van God’s liefde soet
Dan koester ek die hede goed
Wat my met soelheid heel omvou
En so die wasdom bring en bou
Die liefde wat nee nooit verflou.
En in U lig Almagtig Heer
Sal ek vir altyd wil verkeer
Wil deel geregtigheid al meer.
Sy lamp verlig my lewensweg
En neem die somber donker weg
En stel die lewens sonde reg.
En voel ek dan die milde reën
En weet dat God my wil bejeën
So op my stort die liefde seën
En aan my siel die stukrag gee
Om ook my liefde te bestee.
Wil voel die stuwing van die wind
Wat waai uit God se Gees gesind
Die geeswind wat ons steeds verbind
Vas aan ons skepper en ons God
En ons herinner dat ons lot
Is onderwerp aan Sy gebot.
Wil voel verkwikkings heerlikheid
Die dou van Gods teenwoordigheid
Die balsem van die vroeë tyd
Op my gestort oorvloediglik
En deur die al versoenend blik
My noop my sieleweg te skik.
Die sonneskyn wat warmte gee
Die lamp wat lig my lewenswee
Die reën wat ook die lewe gee
Die wind wat oor my waai so sag
Die dou vanuit die vroeë dag
Verryk my lewe met Gods krag.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 29 Augustus 1987