Hervorm en herskep!
Het jy jou hart aan God gegee?
Of is daar twyfel diep geskuil?
Is jy gered of loop jy mee
met al jou sondes, o, so vuil?
En hoe gaan dit met siel en gees;
hoe hoog gestel die geestespeil;
of is jy van jou sond' genees;
en ken jy reeds die hemelheil?
Is jy gered, gewederbaar,
van al die wêrelds sonde erf?
Is jy bekeer, en weet jy waar
jou siel heengaan as jy moet sterf?
Is jy hervorm, en so herskep;
op pottebakkers skyf gevorm
'n pragstuk mooi uit kuns geskep;
en in jou siel die hoogste norm?
En weet jy dat jou God jou ken?
Jou kan hervorm, genees en troos,
jou kan verhef, jou ook laat wen?
Al is jy swak, en teer en broos
Kan Hy jou sterk! As jy Hom eer
kan Hy jou ook volwasse maak
om om te draai, jou te bekeer
om Hom in alles aan te raak!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 11 Mei 1980