HESTER SUSAN
Haartjies blond, so witgoud fyn,
En ogies blou en laggend rein.
Soet die stemmetjie wat sag en teer,
Tog tergend kan lag jou hart verweer.
En vrolike vroulike lewenslus
Ruis opborrelend fontein gerus.
Skitterliggie wat so veraf blink
Uit hemelboog jou nader wink.
Sodat jy heel jou liefdeswaan
Aan haar verpand en julle saam
Nie net die nagliggie sal bly:
  Nou meer die son – as stergety.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 18 September 1970
Geskryf deur Hessie Fourie
"Mamma, wat eet ons vanaand?" "Kokkeminjok," kom die antwoord uit die kombuis. Ek weet dit kan net een ding beteken: ‘n pot vol lekkerte! Ek maak my oë toe en probeer dink watse brousel ‘kokke-min-jok’ eintlik is.
‘n Soet reuk trek my in die kombuis. Waterkoekies!! Regte outydse soetkoekies wat nou net uit die oond kom. Een-vir-een druk ek ‘n warm koekie onder die kouewater kraan in en prop my kieste vol. As jy dit nog nie gedoen het nie, het jy ‘n gat in jou koekie-eet opvoeding.
Ek blaai verder deur die fotoalbum. Die vorige foto’s was so werklik ek kon die kokkeminjok en waterkoesies ruik! Op een foto het iemand geskryf: Tannie met die mooi bene! Dis my mamma, daardie tannie met die mooi bene en die nommer 2½ skoengrootte en Tiekie-hakkies.
Ek glimlag ondeund met my eie gedagtes. Dis nie al van haar wat mooi was nie. Na 5 kinders was haar "tieties" (sjoe dis kras gestel) nog net so ferm en mooi. My ouer sussie het altyd dat hul vriendinne "kompetisie" hou met Ma. Sy het baie gebloos, maar lekker gekry want sy het geweet sy’s die wenner.
Gee wonder ‘n simpel ou oom het eendag hom behoorlik aan ma vergaap. Ek (ou klikbek) kon nie vinnig genoeg vir Pappa die storie vertel nie. Sy antwoord: "Natuurlik sal hy kyk. Ek het mos ‘n mooi vrou!"
Ek krimp ineen met die gedagte van daardie T-woord. Kom ons wees beskaafd en noem dit borsies. In my 2de jaar op universiteit het ek my ma laat een nag gebel. "Mamma, hy het aan my borsies probeer vat!" O, die wysheid van Mamma: "My kind, hoe anders gaan hy weet jy het hoë waardes en standaarde. Hy het jou net getoets."
Kyk net die mooi lang dooprok op die foto! Dreambaby is haar fabriek se naam. Wel eintlik was dit, want die nuwe eienaar het die naam verander. Met trots dink ek daaraan dat haar skeppings vandag nog die hele land vol is. Omtrent elke baba-klere winkel het van haar skeppings!
Ek maak die fotoalbum toe. Dis al 23 jaar gelede wat Mamma die Altzheimersiekte op aarde gelos het en as nuwe mens na ‘n nuwe huis saam met Jesus die "Jordaan" oorgesteek het, soos Hy baie jare terug aan haar beloof het. Maar dit is ‘n vertelling vir ‘n ander dag.
Tog het sy baie dinge hier gelos, party kosbare dinge, ander wel, sy het dit gelukkig ook gelos.
Wysheid: Sy het ‘n dubbel porsie (soos my dogter) hiervan gekry.
Vriendelikheid: Elke dag het sy met ‘n helder stem gesing en met almal, ek bedoel ALMAL gesels en gekuier. Geduldige Pa het moes maar hiermee saamleef.
Haastig: Altyd, altyd, altyd. Sy het 3 dae in een geleef! Arma Pappa met sy rustige geaardheid moes maar draf om by te bly!
Vinnige humeur: Daardie Pieperies-humeur. (Sy was ‘n nooi Pieterse) En die kragwoorde: Black-sam, White-sam, Blue-sam. (Hoop jy was wakker genoeg om dit te snap) Gelukkig het vriendelikheid en goedhartigheid gou weer die oorhand gekry.
Geloof: Net geglo? Nee, sy het opreg soos ‘n kind geglo. "Want God sê so. En Jesus het dit belowe" Vanaf die nuwe wasmasjien (nog ‘n storie vir later…) waarvoor sy gebid het tot die babaklerefabriek wat sy in geloof begin het. Alles was op ‘n vaste geloof in God gebou.
Een ding het sy genadiglik vir ons gelos. Haar voetspore. Ons as kinders kan hul volg, want ons weet waarheen daardie spore lei.
Veels geluk hemelse Pappa. U het werklik ‘n fantastiese werk gedoen toe U haar geskape het. Daardie fyn, klein mensie het U kreatief gemaak, maar U goedhartigheid was so groot dat U haar vir my as ‘n ma gegee het.
PS: Gee vir haar ‘n drukkie en sê ons sê geluk met haar verjaarsdag.
Sy sou die 18de Mei 2011, 86 jaar gewees het.
Geskryf deur Hessie Fourie in 2011