Hom te sien!
Ek wil my Jesus sien dit is my bee –
vir ewig lewe na die aardse wee.
Want as ek hom met geestesoog aanskou
gebeur ‘'n wonder, word ‘'n nuwe blaai omvou.
So het ek Hom gesien en my bekeer
dit was vir my ‘'n sielsgeboorte weer.
In aanskoue weer tot Hom gekom –
gehoorsaam ook – gelyk geword aan Hom
deur dood in doop en Sy opstandingsdaad,
en my geklee in goddelik gewaad.
Ek’t Hom gesien toe Hy op waterweg,
na my gekom het my te wys die weg!
Toe ek in lewensstorm wou ondergaan,
waar was geen weg, het Hy 'n pad gebaan.
En toe ek vestig weer my oog op Hom
het ek in Sy teenwoordigheid gekom –
en ook die heiligmakingskrag geheel
deur my voel spoel, en het my siel gedeel
die pinksterondervinding – my gevul
het Hy met krag – Sy Gees het my omhul.
Toe ek opkyk na Hom met angs en vrees
het Hy my aangeraak en my genees:
my ook gevoed, geklee en my gered
van wanhoop en my greep verstewig het
om aan Sy hand met mening vas te hou,
terwyl Hy my met liefdevleuels omvou.
So sal ek in die laaste snik my oog
gevestig hou op Hom, wie van omhoog
neerbuig om my ook deur die doodsjordaan
te lei, sodat ek ook daardeur kan gaan,
en ek oplaas, Hom tot Sy aangesig
aanskou, in al Sy heerlikheid en lig.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 9 Februarie 1975