Hou vas aan jou geloof!
As die golwe deining groot en dreigend skyn
En jy vrees om in die diepte te verdwyn
Van die grote waters wat jou wil oorspoel
En jou wanhoop dreig, jy vreesbevange voel
Hou dan vas aan jou geloof, en dryf jy vry
Van die trog se dieptes na die kruin so bly
Hou dan vas aan wat jy glo en jou geloof
God sal jou uitred, so het Hy dit beloof
Hy beveel die wind en waters, en die storm stil
Alles is steeds onderworpe aan Sy woord en wil.
As die berg te steil is om daaroor te kom,
En die kranse keer dat jy nie hoër kom
En jou krag beswyk, dat jy nie meer kan staan,
Hou aan jou geloof, jou kragte is genoeg
God sal nooit nie toelaat jy daaronder swoeg.
As die stroom te sterk word, en jou wil verswelg
En jy voel dat jy die onderspit moet delf
En word meegesleur so deur die lewensvloed
En jy kan nie stry teen die verlore moed
Klou aan jou geloof, jy sal die oewer haal
Want deur God's genade sal jy nooit nie faal.
As jou las te swaar word om dit steeds te dra
En dit swaarder word hoe verder jy dit dra
En jy wonder tog dan hoe jy dit moet hou
En die einde skyn nie nader te kom gou,
Hou aan jou geloof, dit sal nie lank meer wees,
Want die Heer versterk jou deur die Heilig Gees.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 5 September 1981