In Gods teenwoordigheid
As ek in Gods teenwoordigheid inkom
Praat Hy met my en so ook ek met Hom.
Vertel Hy my van sy voorsieningskrag
Wat Hy in almal ook vir my vermag.
Dan bring ek Hom my lof, my eer en prys
En wil ek Hom my ware liefde wys,
En spreek my siel van diepe dankbaarheid
Vir Sy getroue lief teenwoordigheid.
          Hy neem van my die donker las van vrees
          Wat diep gewortel is in siel en gees.
          Hy gee aan my 'n ongekende vreug
          'n Vryheid waarin ek my kan verheug.
          In blye dankbaarheid roep ek Hom aan
          Vir al Sy liefde en die weg gebaan.
          Waarop ek dan met blyheid aan kan gaan
          Dit is reeds eeue al aan kruis gedaan.
Dan kom die vaste vryheid weer na bo
Want dis die openbaring wat ek glo.
In blyheid sal ek vind dat vrees vergaan
En kan ek bly en dankbaar verder gaan.
En God bly prys en Hom my ere bring
En jubelend Sy grootsheid kan besing,
Daardeur aan God my lof, my dankbaarheid,
Want Hy’s my God, my eie Heiligheid.
          En in beproewing sal ek ook nie wees
          Maar uit neerslagtigheid my siel verrees.
          Sodat ek bo my vrese uit sal styg
          En sal ek nooit van God se goedheid swyg.
          Maar Hom verhef en aanhou Hom te eer
          En so dan keer op keer my tot Hom keer.
          Aan Hom die lof te bring wat Hy my vra
          Vir al Sy goedheid, liefde en gena!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 12 Oktober 1986