Jou soeke
Soek jy dan wysheid van die allerwyse Heer
Moet jy Hom met geheel jou hartsgeloof vereer
Wanneer jy vra moet jy met vasvertroue glo
En Hy sal op jou let vanuit die Hemel bo
En in sy alvermoë aan jou gee jou deel
Van kennis en verstand wat is jou toebedeel
Om te oorwin die sonde angs en wêreldsvrees
Wat jou wil kwel, en jou wil bind tot in jou gees.
Soek jy dan vryheid van die las wat jy moet dra
Dan moet jy weet Hy het dit reeds vir jou gedra
En hoor, Hy nooi jou uit, jou swaar belaaide siel
Om tog jou lus op Hom te plaas, dit sal verniel
Jou self, jou hart, jou gees tot in jou diepste wees
Tot jy nie seker weet of jy daaruit verrees
Jy kan jou las vertrouend aan die Heer oordra
En vreugdevol en vry Hom volg net waar Hy ga’.
Soek jy dan volheid van die Heilig Gees in jou
Vervulling van die deernis wat jou steeds omvou
Om aan jou naaste ook te dink naas aan jou God
Het jy naby gekom aan heilige gebod
Dan kan jy ook verwag om in die hemelryk
Die groot belofte wat jou Heer jou bied bereik
Gaan in o goed getroue jy het die doel behaal
Die wedloop goed gewen, die prys is reeds betaal.
Soek jy dan mensheid om volkome mens te wees
Om in jou naaste omgang uit te styg in gees
Bo al die kleinlikhede van die alledaags
Met welmoed ook jou weg te baan en onversaags
Jou toekomsblik omhoog te mik na hoër sfeer
Afhanklik van jou God om jou die weg te leer
Dat jy jou loon eendag ontvang, jy het gestreef
Voor medemens en God jou Godsreël na te leef.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 10 Desember 1987