Krag uit gebed
So kragteloos en sonder moed,
Vol wanhoop, ongeloof gevoed,
Vol waaroms, en van twyfel groot.
Dit is die frons van vrees vir dood.
Geen liefde, vol van haat en nyd;
Verwond'ring oor die ewigheid.
So biddeloos en sonder eer;
Geen kontak met die Hemelheer.
Buig tog jou knie, en roep God aan,
Bring dankbaarheid voor Hom te staan,
Em Hy sal op jou sien, en sterk
Die hande wat vir Hom wil werk;
Geloof bekragtig en bewaar,
Die soeke na die wonderbaar,
En Hy sal wonderwerke doen,
Wanneer jy jou met God versoen.
Gee jy jou oor aan God se krag
Kan Hy soveel deur jou vermag;
En sal jy Hom die dank toebring;
Uit volle bors Hom lof toesing.
Maar weet jy waar jou krag dan bly
Dis in gebed waar jy dit kry.
Maak dan gebed jou lewensweë
En Hy sal jou Sy krag ook gee.
Want as jy bid gebeur die ding
Waarop jy vuriglik aandring.
Gebed is krag, dit is die reël,
Wat eensgesindheid bring as deel.
Die binnekamer bidstond – las;
Die biduur samesyn en vas
Bring altyd resultate mee;
Dit is die krag wat God jou gee.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 12 September 1983