My lied my dank
Wanneer die skemerkleure skyn
En is die daglig haas aan kwyn
En wolke op die westerkim
Die dalend son in kleure glim
Dan ruis in my 'n glorie lied
Wat ek my Heer in dank wil bied
Vir al Sy goedheid en gena
En al wat Hy sê ek mag vra.
Wanneer die skitterliggies skyn
Die nagvors in die lug verskyn
En ek na dag se arbeid rus
En slaap my moeë liggaam sus,
Dan sing ek uit in dankbaarheid
My naglied van Gods heerlikheid
Vir al die gawes wat Hy gee
Vir ons op aarde hier benee.
Wanneer die donker my omvou
En ek in geestesoog aanskou
Die Grote God in Edendal
Die Skepper van die groot heelal
Dan voel my siel teenwoordigheid
Die Ek Is gees van ewigheid
En in gebed bring ek my eer
Aan my Verlosser, Leidsman Heer.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 16 Mei 1987