O! Kom na my
Wanneer die eensaamheid so wyd sprei om jou heen,
En jy bevind jou so alleen, alleen;
En selfs 'n boek kan nie tevrede stel
Die hunker wat daar in jou siel opwel,
Om ook te weet,
Jy's nie vergeet.
En as die lewe swaar en hard op jou kom druk,
En onder laste gaan jy krom gebuk;
En voel dit gans en al te veel gevra
Van jou om so alleen die las te dra,
En daar's geeneen
Wie hulp verleen.
En kom jy voor 'n toegeslote deur te staan,
En daar's geen ander weg wat jy kan gaan.
Wat doen mens dan, bly steeds die vraag gestel?
Hoe moed jy verder gaan? Dit is jou kwel.
Maar voorwaarts aan
Bly steeds jou baan.
En wil dit voorkom as jy dan jou oog omhoog
Wil rig in smeekgebed, daar's geen betoog
Wat jy kan bied, maar net 'n sware sug
Wat uit die diepte skeur tot in die lug,
Is dit gehoor
In hemel-oor?
Dink jy dan ooit aan die vertroostend woord gewis:
"O Kom na My, vermoeide, Ek gee rus!"
En weet jy ook dat Hy jou las sal dra;
Die weg ontsluit dat jy daarop kan ga' !
'n Vriend is Hy
Wie by jou bly.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 15 Desember 1980