Ons Erfenis - die plaas
Waar vele wilgerbome staan
Alom die lande vol van graan:-
Daar staan ‘n kerkhof langs die pad,
Waar rus ons Vaad’re afgemat,
Na lange tog en harde stryd
Oor berge hoog en vlaktes wyd.
Waar silhouette van bokkies klein
In skemeraande swart verskyn
Daar op die hoë berge soom,
Vergroei met rots en ouhout boom,
So rustig soos die soele wind,
Wat in die klowe rus kan vind.
Waar uit fonteine bruis en val
Die waters helder soos kristal;
Hul bane kronkel deur die land,
Langs walle hoog van klei of sand;
Glad oor die harde klipbank was,
En oor die watervalle plas.
En die ou klars weergalmend kla
Die las van lange eeue dra;
En dassies in die songloed traag
Vir warmte hul lewens waag;
Verward opskrik vanuit hul slaap
Wanneer die krans elk klank na-aap.
Waar een ou reuse eik nog troon,
Geplant toe mens daar het kom woon,
En deur ‘n eeu sy kruin so fier
Versprei het, en waar populier
So regop in die lug verrys
Hul vingers na die hemel wys,
Langs die ou klipmuur swaar gepak,
Wat deur die tyd nou om wil sak;
Dit het ‘n doel gedien en meer;
‘n Eeu lank al die vee gekeer
Vanaf die tuin , die brood en land
Met moeite netjies daar geplant,
Op die ou plaas wat in die hoek
Van hoë berge skuiling soek;
Met die ou postal hoog gebou
Wat heel die lang vallei aanskou ---
‘n Uitsig ongeëwenaard
Van welig groei in vrugbaar aard,
Daar het ons Vadere kom woon ---
Na swerwingstyd met rus beloon ---
Met reguit voor geploeg hul land,
Gesaai hul graan, hul brood geplant:
Gebou het vir die nageslag
'n Erfenis van trots en prag!
Geskryg deur Joffie Janse van Rensburg op 29 Oktober 1946