Op die berg van voorsiening
Ken jy snood dan die wroeging in vaderlik hart
Wat sy enigste seun as 'n offer moet gee,
Want dit skrei en dit skeur met 'n diep donker smart
As jy al wat jy het aan die almag bestee.
Maar dit juig en dit jubel met blydskap wat sing
As jy eindlik God's berg tot die kruin het bestyg.
As jy willens gewillig jou alles sal bring,
Sal jou God jou beloon en die seën nie swyg.
Klim verseker beslis op die berg van die Heer
Waar voorsiening jou deel is – jy God sal ontmoet,
En jy daar jou aanbidding sal bring tot God's eer,
Totdat God jou sal sien en jou offer vergoed.
In die dal van die wanhoop – net smarte teneer –
Op die berg word voorsien vir 'n offer en erf –
Die Messias het reeds al die offer geëer:
Was Hy eenmaal allenig die lam wie moes sterf.
Is op Golgota's heuwel versoening gedien,
Te voorsien vir die menslike redding en heil,
Daar het God self Sy Seun as 'n offer gesien,
En die skuldlas vergewe en sonde verwyl.
Op die berg van voorsiening – die Heer het voorsien
Met die dood van God's Lam as 'n offer gebring –
In die sielebehoefte van elk wie Hom dien,
Laat ons nou dan die Here ons lof offer bring.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 10 Oktober 1982