Skelm spoor van Altzheimers
Jou gees is nie meer hier by my
Dis al asof jy my vermy
Asof jou denke ver weg sweef
En jy jou in die verte leef.
Jy sê dat jy my nog bemin
Maar waarheen is getrek jou sin
Want dis nie hier maar verreweg
Dis so asof jy my beveg.
Jy’s ver van my in gees gegaan
Volg jy jouself op skewe baan
Gedagtes wat nie meer wil vlot
En is jy in jou woorde bot.
Wat het gebeur in jou verstand
Of dink jy nie meer in verband
Jy’s nie dieselfde meer in gees
En is jy dof geword in wees.
Jou handel is nie meer so flink
En wil jy praat moet jy eers dink
En dan vergeet jy wat jy wou
En kan jy dan nie meer onthou.
Jy loop nie meer met vaste tree
So doelgerig op al jou wee
Nou strompelend as jy aanstap
Onseker van jou elke trap.
Jy struikelval ook as jy praat
Jou sprankelspraak het jou verlaat
Jou woorde is 'n mompeling
En halwe sinne aangebring.
Jou glimlag kom nie meer so gou
Asof 'n donker jou omvou
'n Huiwering is te betreur
In jou gelaat dan te bespeur.
Jou stralend blik is ook nie meer
So vreugdevol so sag en teer
Jou uitdrukking verraai nou wel
Verwarring wat jou gees so kwel.
Dit is so treurig te aanskou
Die groot verval wat om jou bou
Dit is so moeilik te verstaan
En te berus in ondergaan
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 18 Februarie 1988