Sonskyn, skadu, dag en nag
Telkens as die wolke skadu
Voor die son se strale kring
En die helderheid vernewel
Dat die gloed nie deur kan dring
En die warmte word verwese
In die newel van die waas
Word die goedigheid verdoesel
In 'n somberheid en maas.
Maar die silwer om die wolkrand
Is die hoop wat steeds wil bly
Dat die sonskyn met sy glimlag
Weer die aarde sal verbly
En die donker wolk van wanhoop
Nes die newels weg sal kwyn
Voor die felheid en die hitte
Van die helder sonneskyn.
Sawends as die son sy strale
Agter westerkim versteek
En die goudgloed van die middag
Word tot skemerlig verbreek,
En die daglig is aan kwyne
As die nag sy kleed uitsprei:
Nader kruip die tyd van ruste;
Dan is arbeidsuur verby.
As die aandster skielik skitter
In die blouswart van die nag
Sal die nag se slaapverkwikking
'Nuwe uitgeputte krag
En die glinster van die dagster
Kondig aan die dagbreek weer,
Wanneer lewe weer sal opbloei
In die kringloop, keer op keer.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 4 Februarie 1981