Verby die Jare
Die lange jare kom en gaan
en kerf vir kerf bly spore na,
hul afdruk sal ons ewig dra
op ons gelaat. In ons bestaan
is stories om elk plooi gebou.
Verhale vanuit lang geleë,
van swaarkry, smarte en van wee;
verhale donker , dof en grou
vertel ons van verliese seer
gely, wat het hul merk gemaak
diep in ons siel. En wonde naak
is ewig in ons hart graveer.
Tog sprei daar deur die plooie heen
‘n glimlag wat van hoop weer spreek,
en moedig deur die swaarkry breek,
In erkentenis van Sy seen.
Al is die fleur ook reeds verby
en word die lede styf en stram,
en dowwer brand die lewensvlam,
en die gestalt 'n kromming kry,
terwyl die vel los plooie trek,
en yl die hare word en grys –
dit is die ouderdom wat wys,
as die verlede langer rek.
Herinnering soet sal ons sin wees
want same met die suur die soet
gesmaak, en veel wat bly ons moed
verhef het tot 'n edel gees.
Die goue draad van dankbaarheid
aan Hom wie al die goeie gee ---
die wierook van ons dankgebee
vleg deur die jare en die tyd.
Geskryf deur Joffie Janse van renburg op 25 Augustus 1971