Vir M...
Jy’t my gegee vanuit jouself
Dat ek tot in jou wese delf
Jy’t my geleer om jou te eer
Die ekstase wat hoog uitkring
En diep vanuit my gees wil sing
Die wederkeer, die uiting deer.
Die lange jare het ek deur
Die eenwees met 'n vrou verbeur
Want uit my trou het ek behou
Die kuisheid wat die eg beloof
Maar dit het manlikheid verdoof
Maar net deur jou, bly ek behou.
Hoe kon ek sê en jou vertel
Wat diep vanuit my hart opwel
Wanneer jy jou geneë hou
Jou goedheid ook met my te deel
Die trauma van my siel te heel
Met sprankel spraak, my gees ontvou.
Jy’t my gegee wat ek waardeer
Die grootsheid uit jouself gekeer
Jy’t my verlei, jouself gewy
Die wonder wat jou siel uitkring
Die onsug wat jyself uitbring
My dank vir jou, bly immer vry
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 6 September 1988