Vyf gladde klippe
Vyf gladde klippe uit die beek,
en in die herderstas gesteek,
en in geloof die vyand, hier,
aangedurf, geseëvier
Die eerste klip dit is Gods Woord,
want dit is soos ‘n Tweesny swaard.
Sy Woord oorwin die duiwelsmag,
en bring die lig in duisternis.
Die tweede : dit is my gebed,
wat ek opstuur om my te red
vanuit die hand van vyand groot,
wat my vervolg tot in die dood.
‘n Derde: my getuienis
van wat die Here vir my is.
Want met die woorde wat ek spreek
word die oorheersingsmag verbreek.
My blyheid ook: die vierde klip,
Wat breek die duister wanbegrip
Van wanhoop en neerslagtigheid
Geroer in my --- ‘n hewig stryd.
En vyf: dit is die Naam van God!
nog groter selfs as Sy gebod.
Sy naam vervul die gans heelal –
dit is die alfa en die al.
Sorvuldig is hul uitgesoek;
mooi, rond en sonder punt of hoek,
is hul gevorm in die stroom
wat bruisend vloei vanuit God’s troon.
Vyf gladde klippe, een vir een
geneem, gekeur --- maar watter een
is uit die lewenstas gehaal
om die oorwinning te behaal?
Vyf gladde klippe – maar elkeen
Was in si’gself die regte steen:
God’snaam Sy woord of my gebed,
Getuienis, blyheid, elkeen red!
Vyf gladde klippe opgetel ---
Met een die vyand neergevel!
En so moet ons ook dag vir dag
Gewapen wees met hemelskrag!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 22 Mei 1973