Waarin ek glo
Vra jy my waaraan en waarin ek glo,
Dan vra jy ook of glo ek in 'n God
Wat in die hemel bly, omhoog van bo
Neersien op die mens, om te beskik sy lot.
Vra jy my wat glo ek van God omhoog,
Dan sê ek jou met heel my hart en gees
Hy’t neergedaal vanuit die hemelboog
Te versoen my siel met Hom, die Heilig Wees.
Vra jy my of glo ek in sy wonderkrag,
Dan antwoord ek gewis en seker ja;
Hy is die Een wat in my siel vermag
Die redding wat ek soek en wat ek vra.
Vra jy my hoe ek dan so kan glo, getrou;
Dan sê ek dat Hy woon hier in my hart;
En Hy het weggeneem my smet en rou,
En vreug gegee in plaas van sonde-smart.
Vra jy my of glo ek dat Hy ewig leef,
Dan vra jy of ek Hom ken in Sy krag;
Hy het verrys vanuit die graf: Hy leef!
Vaar na die hemel hoog, vanwaar ek Hom verwag.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 7 Junie 1981