Wat nou?
Ek het dit tog nie so beplan
Maar dit uit sigself gebeur
Hoe kon ek dan my hartstog ban
Hoe kan ek selfs my keuse keur
Dit het spontaan so opgevlam
Toe ek jou telkemaal aanskou
My hart het opgespring, tog lam
En drome in my oopgevou.
Ek het myself gemaan daarteen
Emosies wat geen perke ken
Het somaar alles oorgeneem
En teen my sinne in gewen
Hoe kon ek keer wat het gebeur
En my gedagtes rond laat maal
Dis of beskikking het gekeur
Die weg wat my gevoelens haal.
Ek het gewonder waar dan heen
Die noodlot my nou eintlik lei
Ek het my nie daartoe geleen
Maar wel daarteen gewaak en stry
Om nie te diep betrokke raak
Maar kon tog nie my wense keer
Wat het toe hande uitgeraak
En aangevoel jou wederkeer.
Ek het gevoel die noodlotsklap
Diep in my hart het vreug ontwaak
Gevoelens wat my hart omkrap
Emosies wat my wese raak
Hoe moes ek daarop reageer
Hoe moes ek dit myself verwerk
Hoe moes ek dit realiseer
My liefde ook daarin versterk.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 28 September 1988