Liefste Dogter,
      Wanneer 'n man se dogter nog klein is, dan skenk
hy miskien nie soveel aandag aan haar soos wat die
geval mag wees met 'n seun nie. En wanneer sy
groter word dan verloor hy daardie intimiteit, wat hulle
geniet het, as daardie dogter die puberteitsjare ingaan,
en sy skugter raak vir die manspersoon, haar pa.
'n Vader merk dan juis miskien nie so op hoë die
tyd verbygaan en sy dogtertjie, soos hy maar geneig
is om altyd aan haar te dink, liggaamlik verander
en uitrond na 'n dametjie begeerlik vir jong mans
soos haar moeder vir hom toe hulle ontmoet het nie.
En dan wanneer die jongmans hulle flikkers gooi
en begin kuier en later selfs vra om die dogter
uit te neem, dan is dit amper asof die Vader nie
kan verdra dat andere een van sy vroumense
moet kom wegrokkel nie—amper kan ek sê
wil wil hy jaloers raak dat die liefde van sy
dogter op 'n ander moet oorgaan. Tog verlustig hy
hom in hom in haar geluk en treur hu saam met haar
wanneer sy dink die wêreld wil vergaan. O nee,
sy belangstelling kwyn nooit nie al wil dit soms vir
haar so voorkom. Onthou net altyd dit dat jou
Vader hom altyd 'n wakende ogie oor jou welstand
en geluk; en omdat hy 'n man is en mans ken sal hy
tot groot moeite gaan om sy dogter of dogters se
reinheid te bewaar. En wanneer 'n jong man haar of
hulle die hof begin maak kyk hy hulle goed deur
en soms wys hy sy afkeuring aan die jongetjie en
soms vestig hy sy dogter se aandag op sekere
punte in die jongman se gedrag of houding.
Maar hierin moet die Vader ook baie diplomaties
en sielkundig optree want dan het hy met die hart
te doen en nie die verstand nie.
      Ek skryf hierdie briefie omdat ek my
gedagtes beter agtermekaar kan inspan en uitdruk
wanneer ek skryf en ook omdat ek dan meer tyd
het om oor dieselfde gedagtes na te dink, as sou
die geval wees wanneer ek gesels. As jy dink
dit is omdat ek nie die moed het om met jou
intiem en vertroulik te gesels nie, dan wil ek net
hierdie sê: wanneer jy in daardie stemming is dat
ek kan gesels dan is ek heelwaarskynlik nie en
andersom. Tog wens ek dat ek eerder hieroor
kan gesels as om dit neer te pen op 'n wit vel
papier sonder strepe
      Om te trou is 'n ernstige stap in albei
die bruidjie en die bruidegom se lewens. Dit
is 'n daad wat nie ligtelik bejeën moet word
nie en 'n band wat nie vir elke bakatel ontbind
moet word nie. Dit is 'n stap mens neem met
die vaste voorneme om 'n sukses van te maak.
Daardie sukses hang van jou af, my dogter in
'n groter mate as wat jy nou kan bedink en
in net so 'n mate as van hom wie dan voor
die kansel langs jou sal staan. En as jy nie bereid
is, nou al bereid is, om meer, veel meer te gee as
wat jy verwag om te ontvang nie dan is ek
bevrees vir die behoud van jul geluk en ook jul
huwelik. En as ek dan praat van gee, dan bedoel
ek gee in die volle sin van die woord en in alle
opsigte, want dit is nou maar die beloop van
die ou lewe en was dit deur die eeue heen so,
dat die man graag neem en ontvang en die vrou
moes en moet maar gee en weereens gee.
So is dit dan dat na die "Ja" in die kerk jou
liggaam selfs ook nie meer heeltemal jou eie is
nie, maar deel van jou man word en dat hy daarop
aanspraak maak en daarom eise sal stel wat jy
nou nie van weet nie. Ek vertrou net dat hy
verstandig sal gebruik maar van die voorregte
wat die huwelik hom skenk. Ook hoop ek dat
hy die verstand sal hê om te besef dat die getroude
lewe 'n lewe vol geluk en liefdevolle samesyn
kan wees, alleenlik wanneer hy ook gee en toegee
soos hy van sy eggenote verwag en hy van die
standpunt uitgaan dat die basis vir die beste 'n
ideaal van wederkerigheid is en hy sal bou op die
grondslag van 50 – 50 en daarvolgens sal werk,
dink en bou aan die tempel van jul huwelik. As
hy dit is dit sal doen sal dit jou 'n plesier word
om te gee want dan is jy verseker dat jy ook sal
ontvang. Maar hierin moet ons juis so versigtig
wees dat ons, of julle gee en neem voordat jul die
perke wat God en mens en konvensie daargestel
het om 'n ordelike gemeenskap te bewaar.
..... klik om verder te lees