Daar was 'n redelike ouderdomsverskil (6 jaar) tussen ons en dus is daar gedeeltes wat ek nie onthou nie, omdat ek nog te klein was.

Hier is 'n afskrif van 'n koerantuitknipsel waarin sy geboorte
aangekondig was in 'n Volksrust koerant. Die jaargetal word nie genoem nie, maar
dit moes 1920 gewees het. Die waarskynlike rede waarom hy in 'n Johannesburgse
inrigting gebore is terwyl sy ouers in Volksrust - distrik op die plaas Schuilhoek
gewoon het, is dat ons ma goed bevriend was met suster Carr.
Sy eerste jare het hy dan op die plaas Schuilhoek, 'n pragtige plaas, deurgebring.
Toe hy skoolgaan ouderdom bereik het, het ons ouers 'n goewernante, 'n
onderwyseres, aangestel wat vir hom en Hester, (ons suster), asook die bure se
kinders, klas gegee het, meestal op die groot stoep van die plaashuis, omdat die naaste
skool op Volksrust was wat 'n taamlike afstand vanaf die plaas was.
Ons moeder het hartprobleme ontwikkel en die dokter het aanbeveel dat sy by die
kus moet gaan bly waar die hart beter sou wees. Ons is dus na Durban waar ons 'n
aantal jare gewoon het en waar Joffie op laerskool was.
Ons Pa se besigheidstransaksies by die kus het skeefgeloop as gevolg van die 1933
depressie en ons is terug na die plaas.
Vir die tydperk is ek nie seker waar hy skool gegaan het nie, want ek het saam met die bure se kinders met 'n perdekar
skool toe gery, maar hy was nie by nie.
Ons Pa het die plaas verloor en hy moes
toe gaan werk en is na Standerton gestuur waar Joffie op hoërskool was en matriek
afgelê het. Sy punte was baie goed en vir wiskunde uitstekend. Daar is toe besluit
dat hy universiteit toe moet gaan, maar ons ouers kon dit nie bekostig nie en het
aansoek gedoen om 'n beurs om B.Sc. te gaan studeer.
Gedurende die Desember en Januarie vakansie, terwyl hy gewag het vir goedkeuring van die beurs, het hy by
die Transvaalse Provinsiale Paaie Departement gaan werk as assistent
landmeter en is hy gestuur na die huidige Mpumalanga om 'n nuwe pad uit te meet
tussen Badplaas en Barberton (Nelshoogtepas) en ook 'n kaart op te stel.
Hy het saam met landmeter daar tussen die berge, in daardie pragtige skilderagtige
natuur, gekamp.
Daar het hy die gedig terugkeer geskryf;
soos die gedig sê, het hy die Here daar ontmoet.
..... klik om verder te lees/