Aan haar
Soos sonnestraaltjies oor die berge kruip en bly
Die aarde wek met warme glans van sonnegloed,
En tinte verf op heel die veld met geure soet,
En voëltjies wek met sang en trillend kore bly;
En soos die lelie witte was aan lewe wy;
Soos elk ou blompie uitkruip met 'n heldemoed
Om ook sy kleur te toon in sonnestraal en gloed;
En soos die roos ontvou en sy soet geur versprei
Op sagte ligte windjie wat sy skoonheid kus,
In sonnegloed wat blyheid bring aan skone jeug;
So ook in glans wat uit haar wese straal
Ontvou my siel met liefde uit soetsagte rus,
En wy ek haar my liefde, al my lewensvreug,
Aan Haar lief glansend wese, sy my Sonnestraal.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 16 Maart 1940