Waarheen?
Waarheen dan jou weg wat jy wandel, o mens;
Die weg van die lewe tot dode se grens?
Na wat is jou stewe, die lewe, o siel;
Of het jy geen erns aan die draai van die wiel
Wat vorentoe rol in die groef wat jy leef?
En ken jy die prys wat jou sonde vergeef;
En so jou dan bring aan die end van die weg;
En help en versterk in die stryd wat jy veg.
Waarheen is jou weg in die lewe dan hier?
Of is dit maar steeds net 'n klug of 'n gier
Vir mens om te leef en te swoeg op die aard?
En heg jy gedwee aan jou lewe geen waard,
Te weet wat die einde op aarde sal bring;
Want dit is die grootste veranderingskring
Wat wag op jou wanneer jy afgeleef; oud
Jou einde sal nader met angs, of behoud.
Waarheen is jou skrede op weg hier benee
En waaraan moet elkeen sy lewe bestee?
Is dit dan vir wins, of is dit in verlies;
Die ewigheidsreis wat jou siel so verknies;
Waarheen jou voortstruikel om nogeens te gaan
Die weg na hiernamaals se hemel te baan.
Waarheen dan jou reis, en waarheen dan jou weg?
Waarheen is die vraag: jy alleen kan besleg.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 21 Junie 1981