Oorwinning!
Ek sien die heiligdom ontbloot:
      die tempel voorhangsel geskeur;
Want deur Sy dood het Hy herstel
      die weg wat sonde het verbeur.
Ek sien Sy liggaam weggelê
      die graf bewaak en goed verseël,
'n Sware rots daarvoor gerol
      sodat geeneen Sy liggaam steel.
Ek sien 'n graf, geopend, leeg –
      verskrik die wag daar weggegaan –
Vanuit die graf het Hy verrys
      en uit die dode opgestaan.
Ek sien die Roos van Saron staan
      oorwinnaar oor die doderyk –
Die Lelie van die Dale skoon –
      die Sieraad van God's Koninkryk.
Ek sien die Meester hoe Hy roep
      na elkeen wie verlore is,
En sê: "O kom na My, jy swaar-
      belaaide siel, Ek gee jou rus!"
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg in 1970