Saans
Saans as die donker kom daal oor die velde;
Saans as die sterre kom loer in die nag;
Saans as die sterre soos duisende spelde
Saggies kom vonkel en glinster na dag:
Dan by die kampvuur in eensame drome
Sit ek en dink aan die dae verby;
Dae van liefde en leed, en van drome;
Dae van heerlike vreugde vir my.
Saans as die kriekies kom piep uit die donker;
Saans as die paddas grof kwaak in die vlei;
Saans as die hemel so gloeiend kom Flonker,
En as die maan heel die aarde verbly:
Net met die maan en sterre te fluister,
Eensaam, alleen, tog geselskap omheen,
Rustig na paddas en kriekies te luister,
Alleen, ja, allee, en tog nie alleen.
Saans as die windjie gesels in die bome,
Saans as die vriendlike vuurtjie verswak,
Saans---en alleen sit ek weer met my drome,
Om te ontwaak by my vuurtjie so swak,
Met net die kriekies, die maan en die sterre,
Om my geselskap te hou vir die nag,
Voor ek my rus soek waar duisende sterre,
Wag oor my hou tot die breek van die dag.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 25 Februarie 1940