Rotskolos
                  Tafelberg
Ou Rotskolos vanoor die vlakte plat,
Wat eenkant staan asof van land geskei,
Jy troon alleen so statig bo die stad
En rys vanuit die see, so trots gedy.
En op jou platkroon dra jy soms 'n kleed
Wat leef in stuwing van die suid-oos lug
Wat van die see sy voglaag kry en breed
Dit uitsprei oor jou wye rug.
Die mooiste kaap in omvang van die aard’,
En poort van ingang na die binneland,
En aan jou voet die setel van ons haard
Waar het gegroei die volkie hier geplant.
Jy’s soms genoem Taverne van die See,
Die bakermat waar het ontstaan 'n taal
Vanuit die smeltkroes en uit smaad gesmee
Wat so die storie van jouself verhaal.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 15 Mei 1981