Vergange
As eensaamheid jou wil oorval
En jy dink t’rug so telkemal
Aan al die dae saam beleef, –
Jy het jouself daarin geleef
Tesame met jou hart se keus
Maar nou bly net gemoed gekneus
Die noodlot het fel ingetree
En jou besorg die aardse wee.
Herinnering bly steeds jou deel
Van al die goeie saam gedeel
Aan al die liefdes offervreug
Aan al die soelheid uit ons jeug.
Deur vier dekades so tesaam
Was ons ons saamheid nooit beskaam
Maar het dit vir 'n eer beskou
As al die vriende dit onthou.
Maar jy het in jou dop gekruip
Die vyand in jou brein gesluip
Vir jou is daar geen soetheid meer
Jy lewe net een dag elk keer
Jy ken my nie eers meer aan naam
Gedagtes bly maar net 'n waan
En ek dra al die wroeging saam
Van al wat het verbygegaan.
Geskryf Deur Joffie Janse van Rensburg op 18 Mei 1988