Waarom?
Waarom soek ons in die lewe
      na ‘n onbereikbaar doel?
Waarom is dit haas ons strewe
      na iets wat ons nie kan voel?
Waarom so gejaagd ons strye
      na ‘n dop met net die skyn?
Waarom bang in donker tye
      as die newels tog verdwyn?
Waarom denke aan die toekoms
      sonder na te dink vermy?
Waarom dan ook al die hoekoms
      wat steeds onbeantwoord bly?
Waarom is ons dan nie bly nie
      as ons lag met skyn genot?
Waarom skeur ons ons nie vry nie
      van die leef wys van verrot?
Waarom, ja, maar waarom kla ons
      as ons self nie weet waarom?
Waarom dan nog lewe vra ons
      as geen antwoord sê waarom?
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 24 Julie 1945