Woelinge
As golwe tot 'n kruin opbou
En dreunend in sigself omvou
En witwas uitspoel op die strand
Patrone weef van ragfyn kant
Die sandskulp maal as dit trugspoel
Wanneer die onderstrome woel
Die woeling in jou wese dring
Tot jy die see se lied wil sing
En loop jy op die goue strand
Jou voete sak in sagte sand
En agterkom jou spoorbaan aan
Wat weer deur wind en see vergaan
En jy die soutsmaak van die see
Jou tong so oor jou lippe vee
Verlange na die einderkim
Bly in jou gees tog net 'n skim.
En sit jy stil oor see en tuur
Tot waar dit smelt in die asuur
Dan voel jy hoe die deinend see
'n Woeling in jou gees afgee
Totdat die lewensorge wyk
Jy diep in eie siel inkyk
En voel die krag van diepte trek
Jou uitkyk breër hoër strek.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 4 Februarie 1989