As jy in jou...
As jy in jou die liefde ken,
En wanneer deernis jou oorwen,
Is jy bewus die Opperwees,
En jy gewaar in diepste gees
Die eenwees met jou medemens;
Vervulling van 'n immer wens.
As jy in jou die waarheid ken
Dan het jy ook die vrees oorwen
Om in jouself alleen te wees,
Want uit jou innerlik verrees
Die smagting om erken te word;
In vriendskap liefde uit te stort.
As jy in jou die self gemeet,
In eensaamheid die siel ontleed,
Dan word jy gans bewus die feit
Dat jy jou naaste nodig het.
Soos hy het jy behoefte aan
Dat jy in vriendskap by hom staan.
As jy in jou die grootsheid het,
Daar deur die Godheid ingeset,
Om ook jou nietigheid te besef;
Gered het jy jou eie self
Van hoogmoed en van argwaansweem
Wat jou die vryheid wou ontneem.
As jy in jou die Godheid vrees –
In jou vertoef die Heilig Gees;
Jou leiding gee, jou lewe rig;
Die soekend siel se weg verlig;
Het jy ten eind naby gekom
Aan Goddelike Heiligdom.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 20 Januarie 1981