Blommetjie van die Velde
O lieflik blompie van die velde,
Jou sagte skoonheid sier die velde,
Jou skone reinheid ongeskonde
Bly fris en jeugdig elke stonde,
Verruklik is jou skone kleure,
En heerlik soet jou frisse geure.
Al is jy lang die waterstrome
Omring deur lowergroen van bome,
In koele skadu van die blare,
Waar vloei die waters koel en klare,
Wat lustig om die klippe dartel
En vrolik oor die valle spartel.
Al is jy in die tuin gebore,
Of ver op velde droomverlore,
Gekoester in die sonnestrale,
Langs berge of in groene dale,
Sal jy, lief Blompie van die velde,
Versiering bring aan eensaam velde.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 28 Oktober 1940