Die Brug
Kyk net die brug so sterk,
'n Prag van handewerk,
Wat span oor die so wye stroom!
        Kan ek uit niks ook nou,
        'n Bruggie dan wel bou,
        Om waar te maak 'n vae droom?
Die Brug gebou op rots,
Standvastig en so trots;
'n Mens se handewerk en prag!
        Kastele in die lug,
        En bou wil ek 'n brug
        Daarheen, wat gaan oor wolke sag!
My brug gebou in droom,
Die gaan nie oor 'n stroom,
Maar deur verbeelding heen gebaan.
        En as die droom vervaag,
        Hoe kan ek dan nog waag
        Met vaste tred daaroor te gaan?
Ek wil die jeugdig vrees
Oorbrug deur mens te wees ---
Na droomkasteel en ideaal
        'n Brug, so sterk, te baan,
        Dat ek daaroor kan gaan
        Heel sonder vrees dat dit sal faal!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 17 Augustus 1945