Die kruis in die middel
Veroordeel, al was Hy onskuldig rein
Verswak, halfdood, gegesel en vol pyn
Sodat Hy selfs nie eens Sy kruis kon dra
Moes Hy op Golgota ons sonde dra
Het Hy Gods Toorn – smaad op Hom geneem
Is Hy as wêreld offerlam vervreem.
Drie kruise op die heuwel ingeplant
'n Boosdoener aan kruis aan elke kant
En in die middel Hy die Middelaar
Alleen, die Offerlam deur God aanvaar
Daar tussen rowers moes Hy vir ons sterf
Vir ons die hemel – lewe te verwerf.
En aan die middelkruis, gesper, gehang
Moes Hy geoffer word, my plek vervang
Die middelpunt van God se Toorn word
Die mensdom, ons met saligheid omgord
Wanneer ons Hom as middelaar aanvaar
Moet ons aan Hom ons reddingsdank verklaar.
En na die kruis wat in die middel staan
Moet ons met al ons sondelaste gaan,
Die ewige simbool ons voorgehou
Waaraan ons steeds ons siele hoop bly bou
Om ons te sterk en ons die weg te wys
Waarop ons gaan die ewig lewe eis!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 17 Mei 1987