Die lig van geregtigheid
Soms as die windjie droef en triestig waai,
en donker wolke in die lug oplaai,
En in my hart kom weemoed eens te rus
word in my siel 'n opstuiwing bewus
van God se liefd’ en ewige gena,
wat ons oorkoepel en ons opwaarts dra,
om uit die poel van wanhoop uit te rys,
en God eerbiedig alle eer bewys.
En as die son weer warm helder skyn
om op te lek die newels van venyn,
en heel die uitsig is weer oop en wyd,
dan is die kommer weg en ook die stryd
om geen neerslagtigheid in my te dra;
maar op te sien en wysheid te mag vra.
My dankbaarheid te toon vir gawes groot
wat vloei vanuit Gods Seun se offer – dood!
En as geregtigheid dan diep in my
Sy lig kom bring, om my ook te bevry
van al die sondelas wat my neerdruk,
en van my lig die druk van sware juk;
dan juig in my my hart met blye gees,
is ek ontroer tot in my diepste wees,
en bring ek God my lof en dankbaarheid
met heel my hart, in diep erkentlikheid!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 8 Julie 1980