Die skadu van die kruis
Al is die kruis se hout nou reeds vergaan,
Bly steeds die groot beteek'nis daarvan staan.
Simbool van redding uit die sondeput –
Die kruis van dood word dan vir ons 'n skut
Om in te skuil teen aanval van die boos;
'n Toevlugsoord om in ons smart te troos.
Die skadu van die kruis sal ewig bly
Om ons te wys hoe God Sy liefde wy.
Al staan die kruis nie meer teen heuwels lang,
Bly onvergane skadu oor ons hang –
Ons te herinner aan die Seun se dood;
Sy liggaam skenk Hy as die lewensbrood,
Wat eens vir altyd daar geoffer is
Om so die sonde van die mensdom uit te wis.
'n Brug gespan oor diepe afgrond gaan;
'n Weg vir ons na God se hemel baan.
Net soos die reënboog se belofte bly,
So bly die skadu van die kruis ons by.
Die sinnebeeld van christelik geloof
En tekening deur al wat God beloof.
Die teëbeeld van reddende gena,
Van ons word net 'n vol geloof gevra,
Om op te sien net in die geestesoog,
Die skadu van die kruis in hemelboog.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 1 Julie 1984