Is daar niks groter?
In liefde en verlange;
In poësie en sange :
Is daar geen soeter woorde,
En ook geen mooi akkoorde,
Om uit te sing die skone,
Verhef bo die gewone?
In sterwensuur die lewe;
In strye en in strewe;
In smeking en in bede:
Is daar geen rus en vrede
Wat lei die rigtinglose,
En stil die rutelose ?
In mense siel en wese,
Onkundig of belese,
Is daar geen vaster bande
Gebind deur mensehande,
Dan liefde groot en ewig:
Die lewensanker stewig?
In smarte en in lye;
In swaar die donker tye:
Is daar geen medelye ---
Versagtend sware lye ---
Wat deel in al die smarte
Van diep beproefde harte?
En in die lewe selwe,
Waar ons na vreugde delwe;
En in die liefdesdrama ---
Die lewens panorama,
Is daar geen silwer randjie
Alom die wolk se kantjie?
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 12 Januarie 1946