Na denke
Hoe meer ek dink aan lang vergange dae,
Hoe meer verlang ek na die dae nou verby.
Dan kom ook op by my die honderd vrae:
Van hoe, en wat, en wie ek dan nou eintlik bly,
Ja, nou, na al die groot en veel veranderinge,
Met menigvuldig avonture opgedaan,
Wat ek het ondergaan in al die lewenskringe,
En dit in hierdie wankelbare mensbestaan.
Die woesterny in my gedagte lewe.
Sal eendag bots, of moet gou tot ‘n stilstand kom,
Want nou is dit geen ware vreugde lewe,
En dan hoor ek my lewe saggies sê: Draai om,
Om nou met vaste tred iets hoër na te strewe,
Sodat die nut van ideale uitleef strek,
En sodat jy jou plek inneem in hierdie lewe,
Waarvan die groot vereiste is om hard te werk.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 26 Mei 1939