O Liefdeglans kom lei vir my.
O Liefdegloed waar son ek vind,
Die weg wat harte samebind,
En hoe sal ek dit dan betree
Om aan jou uit te stort my wee?
O, lig van liefde helderblink
Sal jy my nogeens weer kom wink,
Want eers het jy in oomblik soet
Jouself getoon, ‘n warme gloed.
Maar altyddeur ontwyk jy my,
En tog weet ek jy is naby.
O, laat my toe om jou te sien,
Want dan sale k jou ewig dien.
In die droë land het ek gedwaal,
Gesoek in velde droef en kaal,
En ook het ek in berg en kloof
Gesoek na jou in groene loof.
Ja, orals het ek rondgegaan,
En nooit jou grootheid kon verstaan,
Want altyd het jy my ontwyk
O, sal ek ooit jou eens beryk.
O, Liefde, Liefde sag en teer,
O, sal jy eendag my kom leer
Om jou te vind, En waar jy bly?
O, kom dan gou en leer vir my.
O kom tog gou; O kom tog gou,
Vanuit die hemel helderblou,
En leer vir my, En lei ook my, ----
Ja, lei vir my tot aan haar sy.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 7 April 1940