Ongevraagde liefde
Ek het dit tog nie aangevra
Maar het probeer my goed gedra
Van jou mag ek niks vra of hoop
Net vriendskap wat niemand kon koop
Maar tog bly daar in my 'n wens
Wat opbruis in my innermens.
          Ek is nie vry om jou te gee
          Dit wat my diepste wese skree
          Ek is nie vry om te verwag
          Dat jy in jou my kan toelag
          Met dit wat ek so graag begeer
          Al skyn dit in my siel so seer.
Want soet is onse samesyn
Verberg agter 'n waas van skyn
Wat ons in ons het opgebou
Wat ons op ons verhouding hou
Jou oë sal my altyd tart
Hul kyk dring diep tot in my hart.
          Ek mag nie, kan nie hart uitpraat
          Vir jou kan ek dit nie toelaat
          Al is ek vry om jou te min
          Met heel myself ek moet besin
          Wat dit vir jou kan swaarheid bring
          As ons geneentheid wyer kring.
Ek smag om liefde aan te gryp
Met beide hande vas te knyp
Maar moet my dwing om jou ontwil
Die hunker van my wese stil
En hoop net dat jy tog aanvoel
Wat in my diepste wese woel.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 27 September 1988